Nyliefees is om die draai
Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die Nyliefees op die terrein van Hoërskool Nylstroom aangebied word en die organiseerders voorspel dat die fees vanjaar ’n rekordgetal besoekers sal lok.
Die fees skop op Donderdagaand 12 September om 18:00 af met ’n kaas-en-wyngeselligheid wat deur Sakeliga aangebied word. Radio Raps sal die gaste tydens dié geleentheid vermaak en daar sal ook ’n ligte ete bedien word.
Die hekke open amptelik op Vrydag 13 September om 14:00 en die fees sluit op Sondag 15 September met ’n kerk- en lofprysingsdiens op die pawiljoen af. Die toegang vir Sondag is gratis.
Op die feesterrein self sal daar ’n verskeidenheid kos- en snuisterystalletjies wees, asook ’n pretpark en biertent.
Van die hoogtepunte op Vrydag is die uitdunne vir die talentkompetisie om 14:30 wat ten doel het om plaaslike sangtalent te ontdek. Om 17:00 tree die bekende akteur Phillip Moolman en sy vrou, Lurianne, in die skoolsaal op in die verhoogproduksie “Normaal”. Daarna sal die verhoog in die biertent tot laataand aan die brand gesing word met sangers soos Ricus Nel, Appel en Freckled Elvis.
Die Saterdag is die hekke van 08:00 die oggend oop en die dag skop af met ’n baba- en kleuterkompetisie. Die bekende kinderkarakters Dienkie en Doedels vermaak die kleingoed om 09:30 en die vure vir die potjiekoskompetisie sal om 10:00 aangesteek word. Die hoogtepunt op Saterdag se program is Francois van Coke se optrede om 20:00 in die biertent.
Die fees word ten bate van die Modimolle-gemeenskap aangebied en fondse sal na afloop van die fees aan toegewysde gemeenskapsorganisasies uitbetaal word.
Dagkaartjies vir die fees beloop R60 vir volwassenes en R40 vir skoliere en voorskoolse kinders is gratis. Naweekkaartjies is ook beskikbaar en effe goedkoper teen R100 vir volwassenes, R60 vir skoliere en gratis vir voorskoolse kinders. Kaartjies is by die hekke beskikbaar en besoekers wat die lang rye wil vermy, kan hul kaartjies vroegtydig by Ticketpro koop.
Vir meer inligting oor die fees of mense wat nog wil inskryf vir die talent-, sterkman- en potjiekoskompetisies kan die webwerf www.nyliefees.co.za besoek.
Die volledige feesprogram word ook op Vrydag, 6 September, in Die Pos gepubliseer.



