T-Cross laat die wenkbroue lig
Met die gewildheid van nuts- en kruisvoertuie is die opgewondenheid groot in afwagting op die beskikbaarheid van elke nuwe model.
Volkswagen se Polo-reeks is nog altyd ’n uiters gewilde motor wat ons markverkope saam met die Hilux en Fortuner oorheers. Nou, met die nuwe T-Cross, maak Volkswagen dit nog moeiliker vir ander vervaardigers om mee te ding. Die T-Cross is juis op die suksesvolle Polo gegrond en sal met modelle soos Ford se Eco Sport meeding.
Die eerste eienaars behoort binnekort agter hul nuwe Volkswagens se stuurwiele in te skuif. Op Volkswagen se webtuiste kan ’n motor egter vooraf bespreek word, wat kopers sal verseker dat hierdie oulike buksie eerste in hul motorhuis staan.
Die T-Cross is toegerus met alles wat jong, moderne kopers in ’n motor soek. Puik klankstelsels en ’n lang lys nuwe tegnologiese toepassings sal kopers, of hul kinders, lank kan besig hou. Daar is onder meer ’n nuwe Volkswagen-datastelsel wat ’n verskeidenheid inligting van die motor na ’n gebruiker se selfoon stuur. Dit sluit diensinligting en brandstofverbruiksyfers in.
Kopers kan hoë gehalte afwerking van die Volkswagen se binneruim verwag en die nuwe digitale instrumentpaneel is ook baie gewild.
Die eerste modelle sal deur ’n 85 kW 3-silinder met ’n kapasiteit van 1000 cc aangedryf word. Later word ’n goedkoper 70kW en ’n vlagskip 1 500 cc met 110kW verwag.
Soos verwag is veiligheid baie belangrik en die T-Cross het reeds vyf sterre in Europa behaal. Tog word die praktiese aspekte nie afgeskeep nie en is daar plek vir 377 liter bagasie.
Pryse begin onder R340 000 en daar word verwag dat hierdie aantreklike nuweling nie lank na eienaars sal soek nie.



