Topafrigters laat die Warries behoorlik sweet
Hoërskool Warmbad se atlete was die afgelope naweek bevoorreg om deur vier top Suid-Afrikaanse atletiekafrigters, Jaun Strydom, Ilze Wicksell, Hugo Badenhorst, asook die skool se eie sportorganiseerder, Marna van der Merwe, afgerig te word.
Strydom is sedert 1984 ’n suksesvolle hekkie- en naelloopafrigter. Hy is tans die atletiekdirekteur van Hoërskool Monument in Krugersdorp.
Wicksell was in die jare tagtig die Suid-Afrikaanse rekordhouer van die 1 000 m- en 800 m. Haar rekord in die 1 000 m is eers in 2018 deur Caster Semenya verbeter. Wicksel het ’n bewese rekord van afrigting.

Elkeen van die afrigters is met Atletiek Suid-Afrika (ASA) en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) geaffilieer en beskik oor uitgebreide kennis waarby die Warrie-atlete kon baat vind.
Om die atlete verder te motiveer het Badenhorst, huidige voorsitter van ASA se afrigterskomitee, een van sy eie wêreldklasatlete, die 19-jarige Yvonne Robson, ’n tophoogspringatleet, vir die geleentheid saamgebring.
Die afrigters het die atlete touwys gemaak op verskeie terreine en elke item se spesifieke tegnieke gehanteer. Van die besprekingspunte was spoed en vaardigheid.
Die plofkrag wat atlete benodig by velditems soos werpskyf, spiesgooi, gewigstoot, hoogspring, verspring en driesprong insluit, is gedemonstreer. Bykans al die atelete het hul tye en afstande verbeter nadat dié nuwe vaardighede bemeester is. Baanatlete se vaardighede is geslyp in die kort- en langafstande.
Van der Merwe het gesê die oefenkamp was die perfekte geleentheid vir atlete om hul tegnieke te verbeter en met hul fiksheidsprogramme vol te hou sodat hulle gereed is vir die komende atletiekseisoen.
Van der Merwe het gesê haar droom toe sy Bela-Bela toe verhuis het, was om Limpopo-atlete bloot te stel aan al die geleenthede wat Gauteng-skole kry. “Ons droom groot en ek wil ons skool ’n gerekende sportspan op alle gebiede maak,” het sy gesê.



