Dorpe se waterstatus weer getoets
Inwoners kan met ’n geruste hart ’n glas yskoue kraanwater wegslaan op warm dae.

Die burgerregte organisasie AfriForum het onlangs weer die uitslae van hul resultate na die kwaliteit van drink- en rioolwater in dorpe in Limpopo bekend gemaak. Drinkwater word beloon met bloudruppelstatus en rioolwater met groendruppelstatus. Die projek se fokus is nie noodwendig op die toestand van die dorpe se rioolaanleg nie, maar op die gehalte van die water as eindproduk.
Modimolle, Mookgophong, Bela-Bela en Vaalwater se drinkwater het sedert 2017 elke keer die toets geslaag.
Die dorpe se drinkwater is afkomstig van Magalies Water buite Pretoria en plaaslike damme.
“Ons kon vasstel dat die drinkwater van al die dorpe wat getoets is, aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte egter deurlopend toets. Inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê David Rule, AfriForum se assistentkoördineerder vir Limpopo.
Die rioolaanlegte in Modimolle en Mookgophong is egter problematies. Saam met Lephalale en Polokwane se suiweringswerke, voldoen dié dorpe volgens AfriForum nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.
Die Pos berig jare lank reeds oor probleme by dié suiweringswerke.
AfriForm het in Mei en Junie die rioolwaterstelsels van 124 dorpe getoets, waarvan 65 nie aan die vereistes voldoen het nie.
In Mookgophong was daar in 2017 meer as 2 500 eenhede E.coli per 100 ml, in 2018 meer as 100 000 E. coli en meer as 100 000 fekale kolivormige bakterieë per 100 ml en in 2019 meer as 1000 eenhede per 100 ml.
In Modimolle se verwerkte rioolwater was daar in 2017 meer as’n 1 000 eenhede E.coli per 100 ml, in 2018 meer as 100 000 E. coli en meer as 100 000 fekale kolivormige bakterieë per 100 ml en in 2019 meer as 1000 eenhede per 100 ml.
Bela-Bela se water het in 2018 en vanjaar skoon getoets.
Die Suid-Afrikaanse nasionale watergehaltestandaarde bepaal dat daar nie meer as 1 000 eenhede E. coli per 100 ml water in behandelde rioolwater mag wees nie.



