Amanda de Lange, VF Plus, LPW: Gautengse wetgewer, skryf:
Die wanbetalingskultuur van elektrisiteitsverbruikers in Soweto is seker die grootste oorsaak dat Eskom feitlik op sy knieë gedwing is.
Luidens ’n verslag van die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGHSTA) wat aan die Gauteng-wetgewer se CoGHSTA-komitee voorgelê is, skuld Soweto Eskom meer as R17 miljard, wat die helfte van die land se skuld aan Eskom beloop.
Soweto se wanbetaling duur reeds jare en politici probeer sonder veel sukses om kragverbruikers te oorreed om gedeeltes van hul skuld te betaal. Dreigemente om die kragtoevoer af te sny, dien ook geen doel nie. Inwoners hou vol die ANC het in hul verkiesingsbeloftes aan kiesers gratis elektrisiteit en water beloof. Die kultuur van nie-betaling het nou ’n nalatenskap van die ANC-struggle geword.
Intussen worstel die nasionale kragvoorsiener om finansieel te oorleef en het in 2018 ’n laagtepunt beleef. Die situasie word vererger deur ander nie-betalers, fiskale ongerymdhede, bedrog en wanbestuur.
Dit wil voorkom asof Eskom ook geen werkbare plan het om die R34 miljard in te vorder wat onderpresterende munisipaliteite aan hom skuld nie.
Daarbenewens is Eskom se operasionele drakrag ook nie na wense nie en jare se ongeoorloofde tariefverhogings het geen verligting gebring nie.
Verdere druk word op die betalende middelklasburger geplaas om die skuldlas en verantwoordelikhede van nie-betalers en onderpresterende munisipaliteite te dra in ’n omgewing waar munisipaliteite se skuldlas die afgelope 18 maande met sowat 80% gestyg het.
Hoewel die ANC-regering ’n reddingsboei aan die skuldgeteisterde Eskom probeer uitgooi, is die fiskale en operasionele skade reeds baie groot en is daar min hoop dat ’n volhoubare finansiële ommekeer bewerkstellig kan word. Die aksieplan om Soweto se agterstallige skuld op ’n dringende basis in te vorder, is duister.
Die kwessie is ’n kopseer vir die departement van samewerkende regering, maar daar moet streng maatreëls ingestel word om, te midde van toenemende verarming van verbruikers, alternatiewe krag aan huishoudings te lewer.



