Moenie houtgerus oor bek-en-klouseer wees
Rolspelers in die veebedryf meen produsente moenie té gerus wees nadat die verbod op veilings weens die uitbraak van bek-en-klouseer in Februarie opgehef is nie.
Die siekte het in November 2019 in die Molemole-gebied, noord van Polokwane, uitgebreek.
Die veebedryf is daarna op sy knieë gedwing met veilings en veevervoer wat daarna landwyd verbied is. Die virus het aanvanklik in Januarie 2019 in die Vhembe-omgewing ontstaan en daar is vasgestel dat die tweede uitbraak met die eerste een verband hou.
Thoko Didiza, minister van landbou, het in die Staatskoerant erken die virus is steeds nie ten volle onder beheer nie en die nodige bio-veiligheidsmaatreëls moet deur veilingshuise en veeboere gevolg word.
Daar is ook vereis dat alle vee-agente by die raad vir landbou en produseerder-agente (APAC) geregistreer moet wees voordat hulle veilings mag aanbied.
Die presiese voorwaardes, riglyne en beplanning sou na verwagting aan die einde van Februarie in die Staatskoerant gepubliseer word, maar volgens Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Limpopo-dieregesondheidsforum en voorsitter van die bek-en-klouseerforum (BK Forum) is dit nog nie gedoen nie.
“Indien rolspelers slaplê en nie die bestaande voorsorgmaatreëls tref nie, loop ons die gevaar om weer dieselfde probleme as verlede jaar te kry. Hoewel die regering ondersoeke gedoen het oor die oorsprong van die gevreesde siekte, is daar nog nie vasgestel hoe wyd die siekte versprei het nie en die beweging van moontlik besmette diere kon nog nie vasgestel word nie,” het hy gesê.
Die Waterberg- en Sekhukhune-gebiede was tot dusver gelukkig om die gevreesde siekte vry te spring, maar gebiede soos Mopani, Vhembe en Molemole is uitgewys as gebiede waar die siekte voorgekom het, het Van Jaarsveld gesê.
“Wat ons bekommer is dat daar mense is wat nie maatreëls nakom nie. Van die rolspelers is traag om ’n finansiële uitgawe aan te gaan en ander is net onwillig om saam te werk. Selfs om vee te brandmerk, wat deur die wet vereis word, word geïgnoreer. Ons het reeds van gevalle kennis geneem waar veeboere met vee by ’n veiling opgedaag het wat steeds onder kwarantyn is.”
Van Jaarsveld meen die regering moet spesiale opleiding verskaf aan boere wat op gemeenskapsgrond boer en nie altyd oor die nodige kennis van veesiektes en regulasies beskik nie. Kommersiële boere wat goed ingelig is, moet ook nie agterlosig raak nie.
Van Jaarsveld het gesê die forum moniteer steeds die situasie.
- Diere wat simptome van die siekte toon, mag steeds nie vervoer word nie. Vee moet van betroubare bronne bekom word, kopers moet op ’n vrywaringsertifikaat van ’n erkende veearts aandring en wanneer hulle nuwe vee by ’n bestaande kudde voeg, moet die nuwe vee eers geïsoleer word om te bepaal of hulle die siekte dra of nie. Slegs goedgekeurde abattoirs mag vee slag.



