Die meeste plaaslike winkels, en selfs plaaslike regeringinstansies, het streng sanitasiemaatreëls ingestel.
EFF-lede van Bela-Bela het egter op Sondag 22 Maart sake in eie hande geneem en die Shoprite-winkel in Potgieterstraat gedwing om sy deure tydelik te sluit. Daar was bewerings dat die winkelpersoneel nie oor maskers of handskoene beskik het nie. Dit het daartoe gelei dat die EFF-lede die winkel se deure gesluit het totdat die bestuur die nodige beskermende toebehore aan die personeel kon voorsien.
Sello Moswoeu, EFF-raadslid, het by navraag aan Die Pos gesê Bela-Bela is ’n toeristedorp en besoekers kan die virus aan winkelpersoneel oordra indien hul nie oor die nodige beskermende hulpmiddels beskik nie. Dit sal op sy beurt weer die dorp in sy geheel blootstel.
Shoprite het in ’n verklaring gesê hulle neem wel die maatreëls ernstig op. Sake het na afloop van die EFF se besoek na normaal teruggekeer.
Moswoeu het voorts gesê hulle sal ander winkels ook besoek, maar nadat die president die land dae later tot inperking gedwing het, was sy planne onduidelik.
Die nasionale inperking begin op Donderdag 26 Maart om middernag waarna geen inwoner, behalwe diegene aan wie uitsondering verleen is, in die strate mag wees nie. Inwoners mag slegs hul huise vir mediese redes verlaat en om kos te koop.
- Die verkeersafdelingpersoneel in Bela-Bela het ook kort voor die inperking hul werksaamhede gestaak omdat daar nie aan hulle maskers verskaf is nie.Die kassiere by die afdeling word beskerm deur ’n glasvenster tussen hulle en kliënte, maar die personeel was glo bekommerd omdat daar meer as 50 mense in die vertrek saamdrom. Jeremiah Ngobeni, burgemeester, het die afgelope week beloof dat sanitasiemaatreëls by die onderskeie munisipale afdelings aangebring sal word.
- Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.



