
Toe ek Sondagmiddag 22 Maart my oudste dogter groet nadat sy en haar man die afgelope naweek by ons deurgebring het, het ek skielik geweet hoe my skoonma 30 jaar gelede gevoel het toe sy drie van haar vier seuns op die stasie gegroet het — al drie op pad grens toe.
Want die “oproep” het al Sondagmiddag op my kind se foon deurgekom. Die boodskap dat alle dokters wat vir die regering werk, “opgeroep”’ word om te help veg teen die Covid-19-oorlog. Dat hulle herontplooi kan word na waar die regering hulle die nodigste het.

En toe ons president op Maandagaand 23 Maart aangekondig het dat die land vir 21 dae in algehele afsondering moet verkeer, was ek, soos die res van die wêreld en die land, bang. En hoewel ons oorlog hierdie keer nie teen vlees en bloed is nie, is dit steeds ’n oorlog.
Nou weet ek hoe die mense in die Verenigde Koninkryk gevoel het toe Winston Churchill op 3 September 1939 aangekondig het dat dié land oorlog teen Duitsland verklaar.
Nou weet ek hoe verskriklik afhanklik mense regtig van mekaar se goedheid en samewerking is.
Ek weet nou dat oorlog ’n gelykmaker is. Oorlog sien nie ryk en arm raak nie en ons vriende en familie wat nou in ander dele van die wêreld woon, is net so bang soos ons hier aan die suidpunt van Afrika.
Ek weet ook nou hoe dit voel om trots op ’n president te wees. Want Maandagaand was Cyril Ramaphosa Suid-Afrika se Churchill.’n Leier wat opgestaan het in ’n tyd wat ’n land dit die nodigte gehad het.
Ek weet ook dat niks vir ewig aanhou nie.
Ek weet ook dat ons sal seëvier.
Toe my kind vroeg Dinsdagoggend ’n gedig aanstuur wat deur een van haar kollegas geskryf is, het ek ook geweet dat ’n mens nie in oorlogstyd keuses het nie.
To the doctors: We’re done being worried and freaking out, but this war is here.
We see the sails of the enemy ships on the horizon.
We hear their drums. It seems likely coronavirus will engulf us, but we will prevail. A lot of us are not coming back from this fight.
There’s no use denying that.
Their are no prizes either; our patients never loved us anyway. But we will give our best until the cuff is deflated.
We may not have volunteered for this, but we will answer the call.
Ek weet al hierdie dinge nou. Ek weet ook dat ek oor 21 dae sal trots wees op Suid-Afrikaners wat, soos ons dokters, gehoor gegee het aan ons land se roepstem deur werklik in afsondering te gaan.


