Die Pos het verlede week berig gerugte doen die ronde dat Mapule Felicity Mokoko, waarnemende munisipale bestuurder van die munisipaliteit, ná slegs vier dae tydens ’n vergadering gesê het dat sy gaan bedank.
Dié munisipaliteit is tans in ’n geldelike verknorsing met reuseskuld aan Eskom, wat dreig om kragtoevoer na die dorpe in die munisipaliteit te sny, asook probleme om salarisse betyds te betaal.
Marlene van Staden, burgemeester, het aan Die Pos gesê dat Mokoko steeds op haar pos is en deel vorm van ’n ingrypende finansiële omkeerplan vir die munisipaliteit. Sy het gesê Mokoko het aanbeveel dat die provinsie moet help om dié plan te fasiliteer.
“Ons is nou deel van die nasionale tesourie se finansiële verbeteringsprogram vir munisipaliteite (MFIP) en sedert Vrydag 25 Mei is Mervin Reddy deel van die munisipale span. Hy is ’n raadgewer wat deur die tesourie na ons gestuur is en sy kontrak duur vir 23 maande tot Maart 2020. Hy is hier om ons te help om die munisipaliteit se finansies reg te ruk. Ek verwelkom hom — hy is baie kundig met meer as tien jaar ondervinding as plaaslike munisipale raadgewer. Hy was ook ’n dosent in munisipale finansiële bestuur in die Wes-Kaap,” het Van Staden gesê.
Volgens haar is Modimolle-Mookgophong een van agt munisipaliteite in die land wat ’n raadgewer van die nasionale tesourie ontvang het.
“Ons is baie dankbaar dat daar, ná baie gesmeek, ’n raadgewer na ons gestuur is,” het sy gesê.



