LettersOpinion

Voorstel vir grondkwessie is werkbaar

’n Rooi lig flikker indien in ag geneem word ons het die regering wat oor iets so deurslaggewend soos grondbesit moet besluit, vertrou met die gesondheidstelsel, water- en kragvoorsiening, onderwys en nog ’n ellelange lys basiese behoeftes.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Die VF Plus het 100 000 beswaarskrifte, asook ’n amptelike voorlegging van die party, aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee oorhandig om beswaar aan te teken teen die verandering van die grondwet om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Daar word gewys op art. 17 van die algemene verklaring van die Verenigde Nasies se handves van menseregte. Hierdie verklaring erken privaatbesit en verbied onteiening sonder vergoeding. Suid-Afrika het hierdie verklaring onderteken. ’n Rooi lig flikker indien in ag geneem word ons het die regering wat oor iets so deurslaggewend soos grondbesit moet besluit, vertrou met die gesondheidstelsel, water- en kragvoorsiening, onderwys en nog ’n ellelange lys basiese behoeftes.

Die VF Plus se oplossing vir die grondkwessie is op die man af. Die meer as 4 000 plase wat reeds deur grondhervorming verkry is, moet by wyse van titelaktes aan swart eienaars gegee word, met in ag neming van die vermoë van die eienaars. Die proses moet produksie- en nie ideologiesgedrewe wees nie. Sodoende kom voedselsekerheid nie in gedrang nie.

Voorts moet die bykans 17 miljoen hektaar staatsgrond beskikbaar gestel word aan mense wat nie ’n heenkome het nie. Hierdie eienaars moet eweneens van titelaktes voorsien word. ’n Ononderhandelbare vereiste is dat die proses effektief en sonder omhaal deur kundige en niekorrupte amptenare bestuur word. Indien laasgenoemde nie in werking gestel word nie, is dit ’n vrugtelose oefening wat tot groter chaos en geen verandering sal lei nie. Die beste voorspeller van die toekoms is immers die verlede. Die sleutelwoorde is doeltreffende administrasie, besitreg by wyse van titelaktes en verdraagsaamheid.

Laasgenoemde vereis dat radikale slagspreuke, beskuldigings dat grond gesteel is en onwettige grondbesettings, gestaak sal word.

Die toepassing van bostaande sal grondonteiening oorbodig maak. Die alternatief, naamlik die oorname van grond deur die regering, sal nie slegs grondeienaars raak nie. Die werklikheid is dat die ekonomie reeds geknou is deur radikale uitsprake.

Suid-Afrika sal verarm, verhonger en weer eens die muishond van die wêreld wees. Miskien sal daar oor 25 jaar terugskouend besef word bostaande was ná alles ’n werkbare voorstel. Jammerlik sal pres. Cyril Ramaphosa se woorde oor voedselsekerheid en ekonomiese groei, niksseggend wees.

Related Articles

Back to top button