BlogsOpinion

Hoofartikel: Om engeletale te kan praat

Sekere nasies het mos ’n vermoë om vreemde tale vinnig aan te leer. Dit is ’n gawe. Mense wie se tonge met die towerstokkie van taal aangeraak is.

Ek was onlangs op reis deur Morokko in Noord-Afrika.

Dit is ’n land waar die ryk kultuur en tradisie ’n mens behoorlik oorweldig.

Dit is verder een van die min lande in Afrika wat, onder meer weens hulle politieke stabiliteit, ekonomiese vooruitgang toon. Dit is veral op landbougebied waar dié land ’n duidelike stempel afdruk en 45% van Morokko se werksgeleenthede word in dié sektor geskep.

Foto ter illustrasie.

 

Wat my egter die meeste beïndruk het, is die gemaklikheid waarmee die land se inwoners van een taal na die volgende oorslaan. Op skool leer hulle vier tale aan, waaronder Arabies (met ’n eie alfabet), Berber (ook met ’n eie alfabet), Frans as derde taal en as vierde taal is daar ’n keuse tussen Spaans en Engels (waarvan laasgenoemde drie natuurlik gebruik maak van ’n Westerse alfabet).

Sekere nasies het mos ’n vermoë om vreemde tale vinnig aan te leer. Dit is ’n gawe. Mense wie se tonge met die towerstokkie van taal aangeraak is. Ek wil myself graag wysmaak dat dit die engeletale is waarna die Bybel verwys.

Die Marokkane se meertaligheid is iets waarop hulle besonder trots is. En hulle glo dat dit hulle in staat stel om meer effektief handel te dryf en die toerismebedryf uit te bou. Hulle reis ook graag oor die Mediterreense see waar hulle met gemak in die Europese lande kan kommunikeer.

Oor die formele en informele status van die verskillende tale wat op ’n daaglikse basis in Morokko gebruik word, kan ek my nie uitlaat nie. Ek weet net dat dié tale deur die landsburgers gebruik word om in één samelewing oor die weg te kom.

Daar in die verte het ek baie gedink oor my eie land en hoe taalsku baie Suid-Afrikaners is. Sku om ’n nuwe, vreemde taal aan te leer. Sku om ’n poging aan te wend om mense in die sakewêreld in hul eie taal te help. In ons land het dit maklik geword om die idee van meertaligheid bloot te ignoreer en waar ’n taal nie maklik van die tong gly en op die oor val nie, word dit gerieflikheidshalwe in die taalasblik gedruk.

Of miskien het ons land se taalskuheid iets te doen met die feit dat taal altyd iewers kniediep in die politiek staan. En as Afrikaans se rol in die talebedeling genoem word, is die kans nog groter dat daar politiek van gemaak word. Want die verwyt is dikwels dat Afrikaanssprekendes meertaligheid slegs ondersteun om Afrikaans te bevorder en te bevoordeel.

Maar ek sal, die politiek ten spyt, bly droom van ’n land waar die ryk klanke van verskillende inheemse tale eendag soos heuning van Suid-Afrikaners se tonge sal drup. Soet en warm. Met genesing in die woorde. Soos dié van engeletale.

Related Articles

Back to top button