
Die saak is luidens hofdokumente wat aan Die Pos uitgereik is op Dinsdag 26 Februarie by die Bela-Bela-landdroshof geregistreer.
Sentsho het luidens die dokument in November 2018 ’n navraag aan die munisipaliteit gerig nadat die kragtoevoer na sy huis in Leseding afgesny is oor beweerde agterstallige skuld. Sentsho beweer dat hy gereeld sy munisipale rekening betaal het en oor die nodige betalingsbewyse beskik.
Hy is, volgens die hofdokumente, onder meer besorg dat sy maandelikse rekening drasties verskil met dié van sy bure. Hy het glo geen idee waarom hy uitstaande maandelikse kostes, wat tussen R2000 en R3500 wissel, aan die munisipaliteit moet betaal nie.
Nadat hy verskeie pogings aangewend het om met die munisipaliteit te onderhandel om regstellings op sy rekening te doen, het hy geen terugvoer ontvang nie. Sy navraag om die rekening te laat hersien, is op rekord. Sentsho het hom derhalwe na die hof gewend.
Die respondente in die saak is die munisipaliteit, Melvin Marutha, die munisipaliteit se hoof-finansiële beampte, Mike Sello Makhubela, munisipale bestuurder, en Jeremiah Ngobeni, burgemeester.
In ’n aangehegde brief aan die munisipaliteit het Sentsho genoem dat sodra die hofsaak begin, hy beplan om die inspektoraat vir prioriteitsmisdaad (die Valke) te betrek.
Sy siviele saak is onlangs aangehoor en uitgestel na Woensdag 3 April vir die aanhoor van respondente se argumente in die hof.



