
Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Diegene wat op Woensdag 8 Mei hul stem vir die VF Plus gegee het, maak geen geringe bydrae tot ’n beter Suid-Afrika nie.
Daarom wil ons van die geleentheid gebruik maak om elkeen wat die party ondersteun het, van harte te bedank.
Die doeltreffendheid van enige organisasie hang van beginselvaste, doelgerigte ondersteuners af en nie slegs van diegene wat onverpoosd hul tyd, aandag en kundigheid deel nie.
Die feit dat die party se steun verdubbel het, is die gevolg van daadwerklike, volgehoue optrede op verskeie terreine. Voorbeelde strek van die intree vir Transnet se pensioentrekkers, onomwonde teëstand teen grondonteiening sonder vergoeding, taalregte van minderheidsgroepe insluitend Afrikaans, regverdige behandeling vir dié wat op grond van ras in die werksplek benadeel word, tot ’n hofgeding teen die oortreding van die Kieswet.
Die party dring nie aan op voorkeurbehandeling nie, maar op gelyke regte vir alle burgers.
Jou kruisie langs die VF Plus maak dit vir ons moontlik om ’n groter aandeel aan wetgewing, dienslewering en stabiliteit te hê. Die VF Plus kan nie as ’n verregse, konserwatiewe party beskou word nie, maar eerder ’n party wat tred hou met die moderne aanslag van regering.
Hieruit lei dat dit geen rassistiese party is nie, maar selfbeskikking en minderheidsregte bevorder.
Die VF Plus se ondersteuners hoef nie langer by die DA te skuil teen die ANC nie, maar het ’n permanente tuiste gevind.
Die kiesers het die groen lig gegee vir ’n party wat inwoners van alle rasse se belange op die hart dra en hulle nie aan goedkoop politiekery skuldig maak nie.
Met u steun kan ons met ’n werkbare ekonomiese beleid ’n bydrae maak om hierdie skip te help draai. En dit beteken werkskepping, beleggings en ’n verbeterde lewenstandaard vir almal.



