Volgens AO George Ledwaba is ’n jong man (19) op Woensdag 8 Mei in hegtenis geneem nadat hy glo ’n ander man met ’n mes in die nek gesteek en dié kort daarna aan sy wonde beswyk het. Die verdagte het reeds op Vrydag 10 Mei in die hof in Mookgophong verskyn en die saak is uitgestel tot Vrydag 17 Mei vir ’n borgaansoek.
Gerugte doen die ronde dat die twee reeds op Dinsdag 7 Mei in ’n woordewisseling betrokke was oor geld. ’n Inwoner wat anoniem wil bly, het aan Die Pos gesê die slagoffer en verdagte het glo aan twee verskillende bendes behoort en dat die voorval bendeverwant is. Die polisie wou nie die gerug bevestig nie, maar het wel bevestig dat hulle bewus is van bendebedrywighede in die omgewing. Die verdagte is reeds verhoorafwagtend vir twee ander sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer en moet op Woensdag 22 Mei weer in die hof in Mookgophong verskyn op hierdie klagtes. Dié voorval het gedurende September 2018 plaasgevind.
Nog ’n man is op Saterdag 11 Mei by Norman`s Tavern, ’n kuierplek, vermoor nadat daar ook ’n woordewisseling ontstaan het. Volgens Ledwaba was ’n groep jongmense besig om snoeker te speel toe die oorledene hulle glo beveel het om die plek te verlaat aangesien dit sy “speelgebied” is. Hy het ’n gholfstok gehad en wou hulle glo aanrand. Die groep het hulself glo verdedig en hy is eers geslaan en het daarna aan ’n meswond beswyk. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.
Daar was ’n derde geweldsmisdaad op Saterdag 11 Mei toe nog ’n man (19) op die plaas Voorwaarts buite Mookgophong aan ’n meswond gesterf het nadat daar glo ’n geskil was tussen twee mans wat saam op die plaas werk. Ledwaba het gesê die oorledene het glo in die verdagte (20) se besittings gekrap en is toe deur die verdagte met ’n mes in die linkerbeen gesteek. Die nooddienste is ontbied maar die man het reeds te veel bloed verloor en het in die ambulans gesterf.
Die polisie wou op hierdie stadium geen name bekend maak nie. Ondersoeke duur voort in al drie sake.
Ledwaba het sy kommer uitgespreek oor die voorvalle en gesê die polisie, in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sal aan ’n plan werk om die gemeenskap te beveilig en in te lig oor die gevare van bendegeweld.



