Tuintuiste se vroue brei vir behoeftiges
Die vroue van Tuintuiste-aftreeoord in Bela-Bela het die afgelope tyd behoorlik die penne laat klik en die bolle wol laat krimp soos hulle erfstukwolkomberse gebrei het.
Agt inwoners — Anna Oosthuizen, Penny Stolz, Gerty de Beer, Shirley de Witt, Babs Schutte, Miemie Reinecke, Johanni de Waal en Jill Armstrong — het hul oortollige wol uit hul kaste gehaal en blokke begin brei. Daarna het hulle die blokke in pragtige komberse omskep.
Die groep het besluit om die projek uit te brei en kaartjies onder die inwoners verkoop, waarna daar op Donderdag 16 Mei ’n gelukkige trekking gehou is.
Twee gelukkige wenners, Bobette van der Westhuizen en Rita Grobler, het elk ’n pragtige kombers gewen.
Die geld wat uit die kaartjieverkope ingesamel is, is volgens die groep gebruik om komberse vir behoeftiges aan te koop wat net voor die winter uitgedeel sal word in die gemeenskap.
Die innoverende vroue sê hulle gaan nou eers die breinaalde laat rus, maar hul dink reeds aan ’n volgende gemeenskapsprojek.



