
Genl.maj. Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder: Transvaalse Landbou-unie SA (TLU SA) skryf:
TLU SA is uiters bekommerd oor die toename en wreedheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika.
Onlangse statistieke toon ’n toename van 60% in plaasaanvalle oor die afgelope dekade.
Volgens TLU SA se amptelike voorvalleregister, wat sedert 1990 bygehou word, is altesame 1 125 plaasaanvalle tussen 1990 en 1999 aangemeld. Tussen 2000 en 2009 is 1 407 gevalle (’n styging van 22%) aangemeld en in die afgelope nege jaar van 2010 tot 2019 is 2 616 plaasaanvalle regoor die land (’n toename van 60%) aangemeld.
Hierdie syfers is skokkend, maar vir TLU SA is dit nie net syfers nie. Dit is 2 022 lede van ons boerderygemeenskap wat sedert 1990 uitgemoor is. Dit is 5 148 keer wat gesinne en plaaswerkers vir hul lewens gevrees het.
Dit is egter blykbaar steeds nie belangrik genoeg vir die regering en pres. Cyril Ramaphosa om hierdie aanslag teen boere te veroordeel nie. Daar was reeds verskeie geleenthede vir die president om plaasaanvalle en –moorde te erken. Die redelike mens kan dus aanvaar dat hy en, uiteraard die ANC-regering, hierdie misdaad as minderwaardig ag.
TLU SA is bewus daarvan dat misdaad regoor die land buite beheer is met 56 moorde wat daagliks gepleeg word.
Die hoë gevalle van geweld en doelgerigte marteling in plaasaanvalle en -moorde, is wat dié misdade van ander geweldsmisdade onderskei. Daar is ’n duidelike verband tussen dié aanvalle en die grondvraagstuk.
Dit is belangrik vir die boerderygemeenskap om te weet wanneer en hoe om op te tree en wat die gevolge van die optrede in ’n plaasaanval is.
TLU SA beveel, in die lig van hierdie syfers, aan dat daar tydens die volgende gesprek met die nasionale kommissaris van polisie in Augustus aandag geskenk word aan die volgende sake: ’n landbouvriendelike reservistestelsel, die integrasie van beskikbare bronne en die erkenning van plaasaanvalle en-moorde as prioriteitsmisdade.
Verder moet die landbougemeenskap fokus op die benutting van tegnologie, kommunikasie en inligting en die opstel en instelling van gebeurlikheidsplanne. (Brief verkort. — Red.)



