NewsSchools

Revue laat die voete jeuk

Die revuegroep van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het vir groot vermaak vir oud en jonk gesorg met hul optrede “Back to the roots”.

Volgens vanjaar se afrigters, Jani Meiring, Corlia Botes en Philanda Denysschen (almal onderwysers van die Hansies) is die tema gekies omdat hulle die gemeenskap wou herinner aan die “wortels” van Neil Diamond tot die “vrug” van Bruno Mars se UpTownFunk.

Dit het beslis byval gevind en het die gehoor elke aand op hul voete gehad. Die eerste optrede was op Dinsdag 13 Augustus toe die bejaardes ’n vroeë vertoning kon bywoon. Nog drie vertonings het gevolg en die optredes is afgesluit met die gala-aand op Vrydag 16 Augustus. Die gala-aand was die hoogtepunt en die gehoor het die dans en sang baie geniet terwyl hulle kon smul aan heerlike eet- en drinkgoed.

Nie minder nie as 22 liedjies is gebruik en die passies is deur die afrigters en twee choreograwe, JD Engelbrecht en Jessica Gibbs, behartig. Die groep het uit 14 seuns en 33 meisies bestaan.

Hulle het twee revue-oefenkampe gehou waar daar net “gesing en gedans, geëet en geslaap” is. Dit was baie harde werk en die deelnemers en afrigters het elke aand vir vyf weke ononderbroke van 17:00 tot 21:00 geoefen.

Werner Terblanché het as gaskunstenaar opgetree met sy konsertina en die voete behoorlik laat jeuk.

Die eindresultaat is deur Annatjie Roets, onderwyser van die skool, beskryf as die beste wat ’n revuegroep nóg by Hans Strijdom gelewer het. “Ek is al meer as 30 jaar by die skool en was by die meeste revue-optredes betrokke, maar hierdie een was ongelooflik,” het sy gesê.

Die leerders het ook verskeie danse aangeleer soos die samba, ramba, “two-step” en “jive” en hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe hulle dit geniet het nie.

“Ons is baie trots op ons onnies en leer-ders met wat hulle vermag het,” het Spikkels de Wet, hoof van die Hansies, aan Die Pos gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button