Local newsNews

Loebies-vrou se mense praat met Die Pos

Die ouers van Annel Snyman (38), bestuurder van die Loebies-gasteplaas in die Elandsfontein-omgewing buite Bela-Bela, is verpletter nadat daar aan hulle vertel is dat hul kind haar eie lewe geneem het.

Snyman is op Maandag 9 September dood toe sy en haar vriend, Chris Luüs, op vakansie was by die Caley Mountain Resort buite Winterton in KwaZulu-Natal.

Volgens haar ouers, Hennie en Antoinette Snyman, is die presiese gebeure en die aanloop tot haar dood nog baie onduidelik. Snyman het haarself na bewering om die lewe gebring deur haarself agter ’n badkamerdeur in een van die wooneenhede op te hang.

Versmoring (throttling) is glo die oorsaak wat op die patoloog se verslag verskyn, het Hennie die afgelope week aan Die Pos gesê nadat hy die polisieverslag onder oë gehad het. Intussen bly die gebeure vir Snyman se ouers ’n raaisel, selfs nadat Hennie en sy seun, Nardus, na Winterton gereis het om die lykskouing by te woon.

“Ons glo dit glad nie, want ons weet sy het nie die fisieke krag gehad om selfdood te kon pleeg nie. Sy is in Julie deur ’n hiëna op die plaas gebyt en dié wond het haar bewegings baie beperk. Daar was geen tekens dat sy depressief was nie,” het haar ouers in ’n gesprek met Die Pos gesê.

“Ons gaan ’n tweede mening oor haar dood aanvra, want ons is nie tevrede met die uitslag van die lykskouing nie. Ons wag tans op verdere terugvoer,” het Hennie gesê.

Luüs het by navraag gesê dat Snyman se dood hom diep getref het nadat hy haar liggaam in die badkamer ontdek het.

Hy het die oordbestuur gekontak om hulp te ontbied. Hulle het ook die plaaslike polisie in kennis gestel van die voorval, het hy gesê.

“Ek het alles probeer om haar terug te bring na die lewe en het noodbehandeling toegepas,” het Luüs gesê. “Hulle sê dat die Here dinge toelaat wat jy kan hanteer, maar haar dood het my gebreek.”

Volgens Luüs het die polisie eers die volgende dag sy verklaring afgeneem omdat hy te ontsteld was om te vertel wat gebeur het. Hy het gesê dat vriende van Bela-Bela na Winterton gereis het om hom by te staan en hom terug te bring huis toe.

Snyman se oorskot is op Donderdag 12 September na Bela-Bela gebring.

Die Pos het die ondersoekbeampte in Winterton vir kommentaar probeer kontak, maar hy was teen druktyd nie beskikbaar nie.

Snyman het die afgelope 12 jaar op haar ouers se plaas gewoon en gewerk.

Sy het haar skoolloopbaan by Laerskool Alma begin en later by Laerskool Warmbad voltooi, waarna sy aan Hoërskool Warmbad gematrikuleer het.

Sy het ná skool aan die Pretoria Technikon openbare betrekkinge gestudeer.

Snyman is met lupus-siekte gediagnoseer terwyl sy nog by Dikhololo-reservaat buite Brits gewerk het.

Hennie en Antoinette het geweet dat hul dogter daagliks met simptome van die siekte sukkel, maar sy het behandeling ontvang en dit was onder beheer, het hulle gesê.

Snyman en haar ma het die gastehuis op die plaas begin, waarna dit uitgebrei het tot die Loebies-gasteplaas soos mense dit vandag ken. Die 19 spesies wilde diere wat op die plaas gehuisves word, was haar breinkind en haar passie.

Volgens haar ouers het die bytwond aan haar arm nie honderd persent herstel nie en het sy ’n afspraak vir Maandag 16 September by ’n spesialis gehad vir ‘n moontlike veloorplanting.

Hoewel haar afsterwe ’n leemte laat vir almal, selfs mense in die buiteland, gaan die plaas intussen aan soos normaal en sal hulle by die nuwe uitdagings moet aanpas. Haar plek is leeg. “Selfs die diere wag steeds vir haar om, soos wat sy elke dag gemaak het, hulle by hul hokke te kom groet. Ten spyte van haar siekte was sy altyd positief, avontuurlustig en sy was lief vir geskiedenis. Sy het ons op die hande gedra as dogter en as vennoot,” het Hennie en Antoinette gesê.

Luüs ontvang intussen sielkundige behandeling om die trauma te verwerk en is dankbaar vir vriende wat hom bystaan.

“Sy was my sielsgenoot en het diep hartsgeheime met my gedeel,” het Luüs gesê. “Dit is maklik vir mense om vingers na my te wys as hulle nie self daar was nie.”

Haar roudiens het op Woensdag 18 September vanuit die Hervormde kerk in Bela-Bela plaasgevind.

Sy laat haar ouers, Hennie en Antoinette, haar twee susters, Marlize van Niekerk en Karlien van Burick, asook haar broer, Nardus Snyman agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button