CrimeNews

Vrou langs besige pad verkrag terwyl sy baba in haar arms vashou

’n Skokkende voorval het op Saterdag 19 Mei op die N1-snelweg naby die Lehau-oorbrug op die N1-snelweg plaasgevind toe rowers glo ’n minibus vol insittendes aangehou en ’n vrou verkrag het.

Die rowers het vermoedelik die vrou verkrag terwyl sy haar baba in haar arms vasgehou het, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag aan Die Pos gesê.

Die minibus, wat van Pretoria na Zimbab-we onderweg was, was omstreeks 21:00 in die omgewing van die Mantsole-weegbrug toe dit glo oor “skerp voorwerpe in die pad” gery en die bande gebars het.

Volgens Ngoepe het ses mans, waarvan twee gewapen was, die minibus bestorm nadat dit tot ’n stilstand gekom het. Die bestuurder en nog ’n passasier het van die toneel gevlug.

Die twee met die handwapens het die deur oopgemaak en op die passasiers se geld en selfone aangedring. Hulle het volgens inligting van die Bela-Bela-polisie in Tswana gepraat terwyl hulle die mense beroof het.

Die passasiers is uit die minibus gedwing en beveel om plat in die nabye veld te lê.

Een van die passasiers is glo oor die kop geslaan.

“Nadat die rowers almal aangesê het om plat te lê, is die vrou die veld in geneem en glo verkrag terwyl sy nog haar baba vasgehou het,” het Ngoepe gesê.

Die rowers het die passasiers daarna beveel om terug in die minibus te klim en om die deure te sluit, waarna hulle op die vlug geslaan het met eiendom met ’n geskatte waarde van R100 000.

Die polisie is kort ná die voorval na die toneel ontbied. Hulle het volgens Ngoepe die nodige bystand aan die slagoffers verleen.

’n Saak van roof en verkragting word ondersoek. Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

* Die polisie waarsku motorryers al geruime tyd om nie snags in dié omgewing stil te hou nie omdat dit gevaarlik is. Die Pos het voorheen ook berig oor padgebruikers wat vertel dat hulle snags oor “skerp items” op paaie in die Bela-Bela-omgewing gery het en daarna beroof is toe hulle stilgehou het.

Die meeste van die voorvalle het die afgelope tyd naby die Mantsole-weegbrug en die Mckenzie-oorbrug naby Radium plaasgevind.

Ngoepe het aan Die Pos gesê die bewerings oor skerp voorwerpe wat op paaie geplaas word met die opset om mense te beroof, word “op hierdie stadium as ’n gerug hanteer totdat dit bevestig kan word”. Die polisie raai nietemin alle motorryers aan om uiters waaksaam in hier-die omgewing te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button