Local newsNews

Bekende tegnologiespesialis van Bela-Bela sterf in ongeluk

Marius Eysele (42), ’n bekende inligtings-tegnologiespesialis van Bela-Bela, is dood nadat hy op Donderdag 24 Mei laat die aand in ’n motorongeluk betrokke was.

Marius Eysele (42), ’n bekende inligtings-tegnologiespesialis van Bela-Bela, is dood nadat hy op Donderdag 24 Mei laat die aand in ’n motorongeluk betrokke was.

Drie voertuie was in die ongeluk op die R101 tussen Modimolle en Mookgophong betrokke toe een voertuig volgens die polisie vermoedelik in die aankomende verkeer vasgery het.

Twee kinders — onderskeidelik vier en 12 jaar oud — van Thohoyandou het ook in die ongeluk gesterf.

Hulle name was teen druktyd nie bekendgemaak nie.

Marius Eysele (42).

Volgens APA-ambulansdienste is die res van die beseerdes op die toneel gestabiliseer en na die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle geneem.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Eysele was op pad terug na Bela-Bela nadat hy werk in Botswana gedoen het, het sy ma, Mariaan, aan Die Pos gesê.

Volgens Mariaan was haar seun altyd baie stiptelik en het hy haar ingelig dat hy op pad terug was.

Hy het haar later dieselfde dag laat weet dat hy omtrent ’n uur van Bela-Bela af was, maar sy het al meer bekommerd geraak hoe later dit geword het, het sy gesê.

Sy is omstreeks 22:00 van sy dood ingelig.

Marius is in Emalahleni (Witbank) gebore en het daar grootgeword. Sy pa, Marius snr., is oorlede toe Eysele agt jaar oud was, het Mariaan gesê.

Hy het ná skool deur Intec College gestudeer. Mariaan het gesê hy was van kleins af gaande oor rekenaars en het dit in sy eie onderneming omskep. Hy was die alleeneienaar van Lifestyle Computers in Bela-Bela en het vir baie mense in die omgewing, asook instansies en skole, werk gedoen.

Hy was ongetroud en het geen kinders gehad nie, maar was baie trots op sy papegaai, Button.

“Hy was ’n wonderlike seun, het ’n goeie hart gehad en het altyd gegee sonder om iets terug te verwag. Hy het rekenaars verstaan,” het Mariaan gesê.

“Dit gaan baie moeilik wees om sonder hom te leef.”

Sy sal veral onthou dat hy omtrent elke dag ’n boodskap aan haar gestuur het wat sê dat hy aan haar dink en lief is vir haar.

Janes Boshoff, jarelange vriend van Marius, het gesê hy was ’n baie goeie vriend vir hom en vir ander. “Hy laat ’n groot leemte in ons vriendekring en ons gaan hom baie mis,” het Boshoff gesê.

Marius se gedenkdiens vind op Vrydag 1 Junie om 11:00 vanuit die NG Warmbad-Wes gemeente in Bela-Bela plaas. Hy laat sy ma, ’n broer en suster agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button