Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:
Die verskyning van koalisieregerings het die politieke landskap ná die laaste munisipale verkiesing aansienlik verander.
Dit is nie moeilik om te voorspel dat die moontlikheid van koalisieregerings sterker op die voorgrond sal tree ná die 2019 algemene verkiesing nie. Onderhandelinge om so ’n regering tot stand te bring, is ingewikkeld aangesien vreemde bedmaats by mekaar gegooi word.
Soos met alle suksesvolle verhoudings is wedersydse respek, vertroue en erkenning ’n voorvereiste. Nadat ’n skikking bereik is, word ’n koalisie-ooreenkoms deur al die partye onderteken. In hierdie ooreenkoms word aangedui hoe daar na die koalisie-regering verwys sal word om te verhoed dat die indruk gewek word dat een party aan die stuur van sake staan. Geen party word deur die ander uitgeskakel nie en insette van partye dra ewe veel gewig. Gevolglik kan van die media verwag word om die ooreenkoms te eerbiedig deur in beriggewing erkenning aan al die partye te verleen.
Hierdie verskuiwing in die samestelling van regerings vereis ’n ingeligte kiesers-korps. Daar word dikwels van die standpunt uitgegaan dat ’n stem vir ’n kleiner party ’n vermorste stem is.
Die voordeel van hierdie stelsel is dat dit kiesers vry staan om vir ’n kleiner party te stem met die wete dat so ’n party deel van ’n koalisieregering kan wees. Op hierdie manier word verhoed dat die mening en uitsprake van die kleiner partye oorskadu word deur groter partye.
Daar word dikwels na die sterkste party in ’n koalisie as die “oorwinnaars” ver-wys. Dit is feitelik nie korrek nie en minagtend teenoor die ander partye. Ontleders het ’n kort geheue en vergeet dat die moontlikheid van ’n koalisieregering juis deur kleiner partye moontlik gemaak word. Anders gestel: indien dit nie vir die volhardende pogings van kleiner partye is nie, kan die regerende ANC die mag behou.
Die VF+ maak geen geringe bydrae in die daarstel van koalisieregerings nie. In die Tshwane-munisipaliteit is die VF+ die twee-de grootste vennoot in die koalisieregering. Die Waterberg-munisipaliteit word eweneens deur ’n koalisieregering beheer, naam-lik die DA en VF+ met ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF.
U as kieser kan met vrymoedigheid stem vir die party van u keuse. Dit is nie meer die grootte van die party wat belangrik is nie, maar die bydrae wat dit kan lewer tot ’n beter bedeling.



