Gee die munisipale raad van Modimolle-Mookgophong kans om hul regrukplanne te implementeer.
Dít is die strekking van Marlene van Staden, burgemeester, se brief aan Jerry Ndou, LUR vir die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) in ant-woord op sy besluit om die raad te ontbind.
Ndou het op Maandag 19 November die munisipaliteit in kennis gestel van sy voorneme om die munisipaliteit in terme van art. 139(c) van die grondwet te ontbind. Dit beteken dat die raad ontbind word en raadslede uit hul poste onthef word. CoGHSTA sal die munisipaliteit dan vanaf provinsiale vlak bestuur totdat ’n tussenverkiesing gehou word om ’n nuwe raad te verkies. Die munisipaliteit word reeds in terme van art. 139 (b) van die grondwet deur ’n administrateur bestuur.
Volgens Van Staden het sy op Maandag 26 November op Ndou se skrywe gereageer met ’n brief van 16 bladsye.
“Ons het gevra dat hulle die besluit heroorweeg. Eerstens is die munisipaliteit se finansiële herstelplan eers op Woensdag 7 November deur die LUR goedgekeur. Die raad het dit reeds in Augustus goedgekeur, waarna ’n openbare deelnameproses moes volg. Dit beteken daar was slegs nege dae tyd om dié plan te implementeer, het Van Staden gesê.
“Tweedens het ons op Dinsdag 16 Oktober besoek van die nasionale raad van provin-sies ontvang. Hulle het hul verslag oor hul bevindinge, waarin hulle die ingryping ingevolge art. 139 (1b) goedkeur, eers op Dinsdag 23 Oktober bekend gemaak. Dit het ons slegs drie weke kans gegee.
“Derdens het die provinsie ons in Julie vanjaar R70 miljoen beloof om ons onkoste te help dek. Ons het die eerste betaling eers op Sondag 4 November ontvang en nog slegs Eskom, Magalies Water en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is daarmee betaal. Ons word nie die tyd gegun om dié geld wat ons ontvang het, te spandeer om ons finansiële las te verlig nie. Die geld word nie in ons bankrekening inbetaal nie, maar deur die provinsie namens ons aan skuldeisers betaal.
“Vierdens het die LUR gesê dat die raad nie aan die wetlike vereistes voldoen wat vergaderings betref nie. Ek verskil van hom. Ek het ’n opsomming gemaak van al ons vergaderings. Volgens die munisipale strukturewet moet raadslede een keer per kwartaal vergader. Ons het vanjaar reeds 11 suksesvolle raadsvergaderings gehou. Daar was sewe uitvoerende komiteevergaderings en 30 suksesvolle komiteevergaderings. Ons oorskry die vereistes by verre.”
Volgens Van Staden is daar nog nie ’n finale besluit geneem of ’n hofaansoek gebring sal word nie.
Die Waterberg-sakekamer gaan volgens sy voorsitter, Wiets Botes, egter steeds voort met hul aansoek dat die munisipaliteit in terme van art. 139 (5) van die grondwet bestuur word. Dié artikel beteken strenger beheer deur die provinsie, hoewel dit nie noodwendig beteken dat die raad ontbind word nie.
“Ons is nie uit op ’n heksejag nie, maar wil hê dat dienste gelewer word. Ontbinding van die raad alleen sal nie die probleme oplos nie. Ons wil hê dat die munisipaliteit se skuld aan Eskom afgeskryf word en die regering die res betaal sodat die munisipaliteit van voor af kan begin,” het hy gesê.



